This week saw the sad loss of one of South Africa's great literary figures and perhaps the foremost poet of the Afrikaans language: Breyten Breytenbach.
In lieu of an obituary, of which there are already many, we offer the following poem, written by author and poet Carina Stander and reproduced with her kind permission.
‘N GOËLLIED VIR BREYTEN
As die taal ‘n liggaam is
is jy die inkvlek op haar handpalm
vloeiend oor die vlegtende treinspoorgroewe van vel.
Die taal is die skelwit orgidee
wat jou met morbiede beloftes verlei
asof jy ‘n insek is.
As jy ‘n rietfluit is, is die taal die verderflike moeras
waaruit windklanke gekerf word.
As jy ‘n wolk is, is die taal die glas
wat jou watergeboorte en -sterfte weerkaats.
As jy ‘n muis is, is die taal die duisterswiepende uil.
As jy ‘n skokbeentjie is, is die taal die slaanstok
wat agter die deur skuil.
As jy ‘n rivier is, is die taal jou oewer, die grens wat jy oorstroom.
En as jy steeds ‘n rivier is, word die taal so waar die padda
wat manel dra en in jou woon.
As jy die grond is, sal die taal ‘n tuin wees.
En as die taal ‘n tuin is, is jy die klouterstruik,
die pampoenblom met geel vlerkslae
of hopelik die komposhoop.
Want as jy die komposhoop is - ‘n blareberg, erdwurmdeurwoel -
sal die taal sonder tyding ‘n boord kan word
swaardragtig aan bittersoet woorde.
As jy die vyeboom is,
is die taal die by wat jou bestuif
en as die taal die by is,
is jy die nektar.
Omdat jy die nektar is,
haal ons vandag met dié verdigsels
kaalhand heuning uit die taal
– dwase wat storm waar die duiselgrote engel huiwer –
ons vingers en voelers tintelend
van al wat swewend leef en kleef.
(Originally published in Versindaba on the occasion of Breytenbach's 80th birthday.)
Comments